Category Archives: skape

In die Bakkie met Pa

Die kere wat ek saam met my Pa in sy bakkie rondgery het is ontelbaar in my kinder kop. Regtig veral die kere wat ek saam met hom Reitz op die Vrystaatse teerpad toe kon ry. Dit was altyd so ‘n voorreg en ‘n bederf gevoel. Snaaks genoeg het ons nie baie gepraat nie. Tog was daar ‘n gevoel van samesyn en kameradie. Baie keer het my Pa sy hand agter my nek gesit en so kontak met my gemaak wat meer beteken het as woorde. Ander kere het ek met my gesig half uit die venster gelê en die wind in my gesig en deur my hare voel waai. Soms het ek myself in die bakkie se spieël dop gehou en verwonderd na myself gekyk.

Om saam met my Pa in die bakkie te ry was totaal en al anders as om saam met die hele familie te ry. Broers en susters het gewoonlik maar met mekaar gekarring oor spasie of hoe jy sit of hoe jy kou of net asem haal. As die jongste moes ek altyd op die kleinste spasie sit. Een keer het ons van Bloemfontein na die Kaap toe gery en ek moes tussen die passasiers en bestuurder stoele op die grond sit.  Daar was darem ‘n kombers om mee te troetel. Gelukkig was ek ‘n buigsame kind gewees nie net liggaamlik nie maar ook geestelik. Was dit voor of na my Pa die geel kombi gekoop het. Die kombis wat nou taxis is was gewild. My oom het ‘n bloue gekoop om al my niggies en nefies in rond te ry.

Dan is daar die twee jaar wat ek en my Ma elke dag skool toe gery het en ek ook die bestuurder kon wees. Ek en my Ma het mekaar goed begin ken daai tyd en op die ou end het ons dit heelwat geniet, die saam ryery. My Ma het ook die ruskans geniet wanneer ek bestuur het. Natuurlik het ‘n mens ook die grond pad begin ken en geweet waar die gate was wat jy moet mis ry. Of watter deel van die pad is ekstra modderig wanneer dit gereën het. Ja, ‘n mens moes ook op en wakker gewees het vir enige beeste of verdwaalde skape wat oor die pad voor jou kar sal loop. Dan moet jy kop hou om vinnig die dier mis te ry maar terselfdertyd nie die motor te rol nie.

Tog daar was tye waar my Pa my gevra het om te bestuur want ek dink hy was te moeg om te ry maar hy moes iets in Kroonstad gaan doen het. Tot my skaamte kon ek op ‘n stadium nie meer my oë oop hou nie as gevolg van allergië. En ek was so teleurgesteld in myself dat ek nie sterk genoeg was om my Pa die heel pad te dryf nie.

‘n Ander keer was ons weer op die pad en die mense wat die pad tussen Petrus Steyn en Edenville in die Vrystaat ken sal weet van ‘n draai om ‘n koppie maar waar daar ook ‘n effense afgrond is. So terwyl ons om die koppie ry, sê ek so ewe vir my Pa dat dit is hoe die lewe is. Jy kan nooit sien wat om die draai gaan gebeur nie. Tot nou toe weet ek nie wat hy nou van hierdie kinderlike wyse woorde gedink het nie.

Advertisements

Wapens, honde, aangetroudes, en skape.

20140615_101405Ons was oppad huis toe van die Dorp af, na kerk of a skool funksie. Dit was donker nag. Net die kar se ligte om die pad te kan sien. Al met die grond pad. Die gorrel-gorrel van die wielle op die grond sus my vaak. Verby die graansuier, die treinspoor, af langs oom Basie se plaas, Oom Jaap se plaas, maar Oom Jaap hulle het dorp toe getrek. Net na ons afgedraai het in ons paadjie in, sien ons die man daar staan langs die doring draad. Ons het hom gevang in ons 80s audi en daar staan hy gevries in die lig. Waarheen gaan hy so in die donker sonder ‘n lig of enige hulp? Hy soek vir moeilikheid so laat in die nag, wie weet hy mag dalk n skaap steel. Dit was nie iemand wat ons geken het nie. My Pa het gestop en sy pistool onder die kar se sitplek uitgehaal. My Ma het gesê, nee my skat moennie, maar my Pa het nie gehoor nie. My Pa skiet ‘n skoot in die lug, dit weergalm deur die stil nag. Van die man langs die pad was daar geen teken nie. Die doring draad bewe.

Dit bring my by my Pa en sy wapens. Sy wapens was veilig weggesit in n brandkluis langs die ouer bed. Net hy het ‘n sleutel gehad. Miskien het my Ma ook een gehad. ‘n Punt 22, ‘n pistool, ‘n windbuks, ‘n baie ou geweer van die boereoorlog, en dan ook ‘n hael geweer. Ek is seker dit was die tipiese wapens wat enige boer daai tyd in sy brandkluis sou gehad het. Daar was ook juwele, belangrike papiere en verrassend genoeg ‘n afkinpsel van my jong kind hare vas gebind met ‘n swart fluweel bandjie.

Waarvoor het my Pa sy wapens gebruik? Vir beskerming, ja sekerlik maar ek kan die kere wat hy dit vir beskerming moes gebruik het op een hand tel. Daar was die keer toe daar in die middel van die nag ‘n ou karretjie gestop het in ons agter plaas. Die honde het geblaf vir die man met sy woeste hare. Toe nog ‘n vreemdeling. My Pa was daar waggend met sy pistool. Wie was hy? Wat soek hy daar? Die man was toe sy toekomstige skoonseun wat al die pad van Stellenbosch gery het tot in die vrystaat om ouers te vra. ek dink ook my Pa se goeie vriend Oom Willem is soms met ‘n pistool in die hand gegroet as hy middernag by ons aan kom vir ‘n lekker kuier,

Daar was natuurlik ander dinge waarvoor my Pa ‘n geweer gebruik het. Om slange wat te na aan die huis kom te skiet. Om slagbeeste te skiet en om honde te skiet.

Ek het nooit waargeneem hoe my pa en soms my broers  die ossies vir slag skiet nie. Ongelukkig wanneer hulle die ossie nie met die eerste skoot kon vrek kry nie het die ossies weggehardloop al om ons plaashuis. ‘n Mens kon die ossie se weg vlug pad volg deur te luister na die desperate gebulk en doef doef van beeshoewe. Die gespanne maar opgewonde stemme van my pa en die werkers soos hulle die ossie volg al om die huis. Dan ‘n finale stilte na ‘n laaste skoot weergalm oor die grasvlaktes.

Die honde was natuurlik ‘n ander storie. ‘n Hartseer storie. Want die honde vang skape. Sodra hulle skape gevang het, was dit verby en ons kinders kon niks doen om hulle te red nie. As hulle eers een skaap gevang het hou hulle nooit op nie. Die armsalige getjank van ‘n hond, wat na vergewing soek. Nie ‘n lekker herinnering nie maar iets wat ons as plaaskinders aanvaar het.

Dan was daar Cheeky, ‘n Wit varkhond wat besluit het om skape te vang was net vir die met swak harte. Wat sy gedoen het was ystervarke jag en soms vang ook. In die oggend het sy baie tevrede, uit asem, bebloed met ystervark penne in die lyf, kom aandag soek. Daarvoor is sy darem nie geksiet nie. En dit was ook Cheeky wat my swaer (dieselfde een wat deur my Pa gegroet is met ‘n pistool) se biltong uit sy tas gesteel het, onder die bed.