Category Archives: plaas diere

Vlêr-muisneste

Op ons plaas het daar baie vlêrmuise rondgevlieg. Jubelend rondgevlieg totdat hulle in ons pad gekom het.  In my gedagtes is hulle swart, klein en vinnig. As die son ondergaan begin hulle vlieg, duik en biep biep verby jou. Vlêrmuise is eintlike die enigste soogdier wat kan vlieg vir lang tye.

Ons het almal groot geword met die storie dat ‘n vlêrmuis ‘n nes in jou hare sal maak en daarom het ek altyd met my kop onder die kombers geslaap as kind. Net my neus het uitgesteek. Ook het my kinder kop altyd muisneste en vlêrmuise onder een kappie gesit. Tot vandag hou ek nie daarvan om muisneste te hê nie.

Maar werklik het ons die vlêrmuise in vrede gelos totdat hulle parmantig en onkundig in ons huis ingevlieg het. Op sig self is ‘n vlêrmuis sekerlik skadeloos en eet hulle gewoonlik vrugte of insekte. Daar is ‘n interesante artikel oor vlêrmuise in “Die Veepos, Oktober 2013, bladsy 5.” Daar verduidelik hulle dat vlêrmuise tot 600 insekte per uur kan vang en eet. Dit kan die boere tog baie geld spaar met insekgif en insek beperking.

Tog as ‘n vlêremuis in ons huis op Demilander ingevlieg het, het dit groot opwinding en konsternasie veroorsaak. Ons almal het ‘n tennis raket gegryp en die spel het begin om die vlêrmuis raak te slaan. Hoe mal is dit dan nie. Die een wat die vlêrmuis eerste raak slaan was natuurlik die wenner alhoewel niemand eintlik iets gewen het nie. As ek reg onthou, het ek gou-gou gaan wegkruip sodat die vlêrmuis nie ‘n nes in my hare maak nie. Lagwekkend as ek nou terug dink daaraan.

Die lekkerste herinneging wat vlêrmuise opwek is die keer toe ‘n groot groep vlêrmuise in ons solder ingetrek het en daar besluit is om die pes uit te rook. My pa het nogal beplan hiervoor sekerlik om seker te maak dat die huis nie afgebrand word nie in die proses nie. Die proses sou ook ‘n paar dae vat want die vlêrmuise sou seker maar stadig die huis se solder verlaat.

Dit is toe dat my ma vir ons ‘n plakkers kamp in ons sitkamer gemaak het met kombers mure, slaapsakke, en kussings. My ma en pa het hulle deel gehad, ek en my sussies ‘n ander en my boeties ook op hulle eie. Uiteindelik was al die vlêrmuise uit en kon ons weer normaal leef.

Die onderliggende geweld wat saam met die herinnering gaan is tipies van groot word op ‘n plaas. Ek wonder wat my broers en susters van hierdie voorval onthou. Dit was wel groot opwinding vir my as kind.

Nog interesante artikels oor vlêrmuise. Addo Dung Beetle Guest Farm se webplaas. hulle praat spesifiek oor die mites en die feite. Asook SouthAfrica.com. En kyk wat sê hulle oor vlêrmuise wat nes maak in jou hare.

Maar natuurlik het ek nou hierdie beeld in my kop van ‘n fantasties karakter met ‘n klomp vlêrmuise in hare. Wat sal ons haar noem. Maria Muisnesta, Fanievlêrmuis, of Nessie Nes.

Advertisements

In die Bakkie met Pa

Die kere wat ek saam met my Pa in sy bakkie rondgery het is ontelbaar in my kinder kop. Regtig veral die kere wat ek saam met hom Reitz op die Vrystaatse teerpad toe kon ry. Dit was altyd so ‘n voorreg en ‘n bederf gevoel. Snaaks genoeg het ons nie baie gepraat nie. Tog was daar ‘n gevoel van samesyn en kameradie. Baie keer het my Pa sy hand agter my nek gesit en so kontak met my gemaak wat meer beteken het as woorde. Ander kere het ek met my gesig half uit die venster gelê en die wind in my gesig en deur my hare voel waai. Soms het ek myself in die bakkie se spieël dop gehou en verwonderd na myself gekyk.

Om saam met my Pa in die bakkie te ry was totaal en al anders as om saam met die hele familie te ry. Broers en susters het gewoonlik maar met mekaar gekarring oor spasie of hoe jy sit of hoe jy kou of net asem haal. As die jongste moes ek altyd op die kleinste spasie sit. Een keer het ons van Bloemfontein na die Kaap toe gery en ek moes tussen die passasiers en bestuurder stoele op die grond sit.  Daar was darem ‘n kombers om mee te troetel. Gelukkig was ek ‘n buigsame kind gewees nie net liggaamlik nie maar ook geestelik. Was dit voor of na my Pa die geel kombi gekoop het. Die kombis wat nou taxis is was gewild. My oom het ‘n bloue gekoop om al my niggies en nefies in rond te ry.

Dan is daar die twee jaar wat ek en my Ma elke dag skool toe gery het en ek ook die bestuurder kon wees. Ek en my Ma het mekaar goed begin ken daai tyd en op die ou end het ons dit heelwat geniet, die saam ryery. My Ma het ook die ruskans geniet wanneer ek bestuur het. Natuurlik het ‘n mens ook die grond pad begin ken en geweet waar die gate was wat jy moet mis ry. Of watter deel van die pad is ekstra modderig wanneer dit gereën het. Ja, ‘n mens moes ook op en wakker gewees het vir enige beeste of verdwaalde skape wat oor die pad voor jou kar sal loop. Dan moet jy kop hou om vinnig die dier mis te ry maar terselfdertyd nie die motor te rol nie.

Tog daar was tye waar my Pa my gevra het om te bestuur want ek dink hy was te moeg om te ry maar hy moes iets in Kroonstad gaan doen het. Tot my skaamte kon ek op ‘n stadium nie meer my oë oop hou nie as gevolg van allergië. En ek was so teleurgesteld in myself dat ek nie sterk genoeg was om my Pa die heel pad te dryf nie.

‘n Ander keer was ons weer op die pad en die mense wat die pad tussen Petrus Steyn en Edenville in die Vrystaat ken sal weet van ‘n draai om ‘n koppie maar waar daar ook ‘n effense afgrond is. So terwyl ons om die koppie ry, sê ek so ewe vir my Pa dat dit is hoe die lewe is. Jy kan nooit sien wat om die draai gaan gebeur nie. Tot nou toe weet ek nie wat hy nou van hierdie kinderlike wyse woorde gedink het nie.

Perde

Demilander was nie ‘n perd plaas nie. Tog het perde ‘n groot rol gespeel in ons groot word. Sterk het ons gesit op die perde en die perde het ons gerespekteer en vinnig van een plaas na die ander gejaag. Demilander, Vaalbank en DePan het in ‘n driehoek langs mekaar geleef. My niggies en nefies op DePan het gesorg dat ons almal perd ry oor en weer. Hulle het van Depan af na ons toe gery of na Vaalbank toe. Nie perd ry vir pryse of kompetisie nie maar perd ry vir wild wees en klou vir jou lewe aan die perd se sweet lyf. Geen saals nie, geen fancy klere nie. Nie lang boots of ronde helmets nie, maar kaalvoet, kortbroeke en geen handskoene nie. Ons was taai ek sê jou. Regte plaasjapies. Geliefde rabbedoes.

en tog…

Jy val af, natuurlik maar om een of ander rede staan jy op sonder enige probleem, stof die grond af en klim weer op. Ry verder. As jy afval het niemand na jou gehardloop om te help nie, almal het stil gehoop jy’s OK en verlig geglimlag as jy opstaan. Die perde galop gaan voort sonder ‘n probleem. Ja soms mank loop, soms bloed tog die dokter was ver en die dominee nog verder.

My een DePan niggie het aan my en my broer perde gegee. My broer sin was wit en myne was bruin. As kind het ek baie boeke gelees en een van my boeke se titel was Espanje. So het dit gekom dat ek my perd Espanje genoem het, want die spesiale geskenk perdjie het ‘n spesiale naam nodig gehad. Die plaasjapie se eenvoudige drome van vreemde lande. Ongelukkig het my broer Universiteit toe gegaan en my niggies dorp toe getrek en ek was alleen op die plaas met die perde en die genot was weg want die moed het my begewe om op my eie die perde te vang of te ry.

Nou en dan het ek na ons twee perde toe geloop waar hulle wei en vir hulle wortels of appels gevoer en self een keer ‘n bietjie suiker. Maar hulle het nie meer daarvan gehou om gevang te word en gery te word nie. Wild met ‘n sin van onafhanklikheid.

kleintydperde
‘n Juweel van ‘n foto wat my niggie vir my gestuur het. Sy, haar sussie en ‘n vriend is op die perdjie. Dis hoe ons almal daai tyd gelyk het. Ons lyk nie taai nie maar ons was.