Category Archives: Pa,

In die Bakkie met Pa

Die kere wat ek saam met my Pa in sy bakkie rondgery het is ontelbaar in my kinder kop. Regtig veral die kere wat ek saam met hom Reitz op die Vrystaatse teerpad toe kon ry. Dit was altyd so ‘n voorreg en ‘n bederf gevoel. Snaaks genoeg het ons nie baie gepraat nie. Tog was daar ‘n gevoel van samesyn en kameradie. Baie keer het my Pa sy hand agter my nek gesit en so kontak met my gemaak wat meer beteken het as woorde. Ander kere het ek met my gesig half uit die venster gelê en die wind in my gesig en deur my hare voel waai. Soms het ek myself in die bakkie se spieël dop gehou en verwonderd na myself gekyk.

Om saam met my Pa in die bakkie te ry was totaal en al anders as om saam met die hele familie te ry. Broers en susters het gewoonlik maar met mekaar gekarring oor spasie of hoe jy sit of hoe jy kou of net asem haal. As die jongste moes ek altyd op die kleinste spasie sit. Een keer het ons van Bloemfontein na die Kaap toe gery en ek moes tussen die passasiers en bestuurder stoele op die grond sit.  Daar was darem ‘n kombers om mee te troetel. Gelukkig was ek ‘n buigsame kind gewees nie net liggaamlik nie maar ook geestelik. Was dit voor of na my Pa die geel kombi gekoop het. Die kombis wat nou taxis is was gewild. My oom het ‘n bloue gekoop om al my niggies en nefies in rond te ry.

Dan is daar die twee jaar wat ek en my Ma elke dag skool toe gery het en ek ook die bestuurder kon wees. Ek en my Ma het mekaar goed begin ken daai tyd en op die ou end het ons dit heelwat geniet, die saam ryery. My Ma het ook die ruskans geniet wanneer ek bestuur het. Natuurlik het ‘n mens ook die grond pad begin ken en geweet waar die gate was wat jy moet mis ry. Of watter deel van die pad is ekstra modderig wanneer dit gereën het. Ja, ‘n mens moes ook op en wakker gewees het vir enige beeste of verdwaalde skape wat oor die pad voor jou kar sal loop. Dan moet jy kop hou om vinnig die dier mis te ry maar terselfdertyd nie die motor te rol nie.

Tog daar was tye waar my Pa my gevra het om te bestuur want ek dink hy was te moeg om te ry maar hy moes iets in Kroonstad gaan doen het. Tot my skaamte kon ek op ‘n stadium nie meer my oë oop hou nie as gevolg van allergië. En ek was so teleurgesteld in myself dat ek nie sterk genoeg was om my Pa die heel pad te dryf nie.

‘n Ander keer was ons weer op die pad en die mense wat die pad tussen Petrus Steyn en Edenville in die Vrystaat ken sal weet van ‘n draai om ‘n koppie maar waar daar ook ‘n effense afgrond is. So terwyl ons om die koppie ry, sê ek so ewe vir my Pa dat dit is hoe die lewe is. Jy kan nooit sien wat om die draai gaan gebeur nie. Tot nou toe weet ek nie wat hy nou van hierdie kinderlike wyse woorde gedink het nie.

Advertisements

Pa se geboortedag -Pa se doodsdag

Net so paar dae gelede, op April 20, was dit my Pa se verjaarsdag. Ons vier dit nie meer soos in die dae toe hy nog geleef het nie. Nou onthou ons hom aan mekaar. “Onthou dis Pa se verjaarsdag môre”. Ek kan nie al my Pa se verjaarsdag vierings onthou nie. Met kinderlike selfsugtugheid, kan ek my eie verjaarsdae beter onthou. Tog ek kan onthou dat my Ma vir my Pa Monchichis gekoop het en ek kan onthou dat daar een keer ‘n groot makietie was. In die stoor, met ‘n skaap of ‘n vark wat om en om die spit gedraai het. Dit het gelyk asof almal ‘n goeie tyd gehad het. Ons het op reghoekige hooi bale gesit. Ek was as kind so bly om te sien hoeveel vriende my Pa se verjaarsdag kom vier het.

Ek kan nie onhou wat die datum was toe hy doodgegaan het nie. Ek voel verlig daaroor. Dis tog soveel beter om iemand se geboortedag te onthou as die doodsdag. Miskien sal mense nie saam met my stem nie. Nou dat ek aan die doodsdag begin dink het, word my brein oorvloed met woorde en beelde van die dood. Ongelukkig het ek my Pa net ‘n paar maande meer as 21 jaar geken. Wat beteken dat ek hom eintlik nie baie goed geken het nie. Is dit nie hartseer nie? Was dit 26 of 27 jaar gelede?

Alhoewel ek nie die presiese dag onthou nie is daar tog ‘n mate van ‘n skuldsgevoel wat  altyd op my rug kom sit soos ‘n vet, slymerige, slak wanneer my Pa se dood opkom. Die feit dat ek nie bekikbaar was nie, dat terwyl my Pa besig was om in pyn sterf, was ek besig om te leef. Toe my Ma op haar kneë hartsverkeurend gehuil het was ek besig om by ‘n kêrel te kuier. Skokkend onthou ek terwyl ek onwetend in ‘n omhelsing van die kêrel was het ek ‘n visie gehad van ‘n kop wat afgeruk word en bloed wat soos ‘n vulkaan uit die nek uit spuit. Miskien was dit my Pa wat vir oulaas sy sê kom sê het oor my kêrels.

Gin wonder dit het nie uitgewerk tussen my die die kêrel nie. Ek wonder altyd of dit die oomblik was dat my Pa sy laaste asem uitgeblaas het. Hoekom anders sou ek so iets visualiseer op daardie aand? Iets wat nooit weer gebeur het nie.

As ek dink aan my Pa se dood dan onthou ek ook hoe hard hy gewerk het om te lewe. Van die eerste keer wat hy in die hospitaal beland het met sy hartaanvalle. Hy het elke dag begin stap vir oefeninge. My ma het saam met hom gestap. Hand in hand, van die huis af na die strooise toe en terug. Hy moes soveel goed opgee waarvoor hy lief was. Iets eenvoudigs soos onder andere aartappels. Eendag het hy ons gevra of ons dink hy moet ‘n nuwe hart kry? ‘n Vriend het aangebied om vir die operasie te betaal. Ja het ek gese dit sal wonderlike wees as Pa nog baie, baie jare saam met ons kan wees. Ongelukkig was dit nie genoeg nie, ongelukkig het die operasie nooit plaas gevind nie. Miskien onthou ek dit verkeerd miskien was dit net die oopmaak van die are om sy hart en nie ‘n nuwe hart nie.

Ek kan nie onthou hoe ek by ons huis gekom het nie na my Pa se dood nie. Het ek saam met my broer gery? Het iemand anders my na die plaas toe gevat? Ek kon sien in die oe van my familie en ander vriendelike medelewende mense dat hulle nie kan verstaan waarom ek nie huil nie. Ek onthou dat ek by die trappe afgestap by my tannie se huis in die dorp en my ma het met ‘n krakerige breekende stem gese dat Pappa dood is. Tog ek dink ek was kwaad dat hy dood is, dood was. Hoe is so iets dan moontlik? Hoekom het hy nie die groot hart operasie ondergaan wat hom nog jare saam met ons sou laat leef het nie. Ek was ook moedeloos. Nie hartseer nie maar kwaad en moedeloos.

My broers en my Ma het my na Afbob daar in Heilbron gevat om na my pa se lyk, se liggaam te gaan kyk. Ek het gehoor dat hulle dink ek sal dan huil as ek sy liggaam sien en hardkoppig het ek geweier om te huil of aan my pa se liggaam te vat. Hy het so alleen gelyk daar op die harde, silver skinkbord. So bleek en maer en klein.  Dit was nie my Pa nie. My Pa was groot en warm. My Pa het klein plooitjies om sy oë gehad en sproete op sy voorarms. My Pa het groot warm hande gehad wat my hande kon toe vou en vashou en toe en nou, was al daai Pa-geit weg.

Na die begrafnis het my broers, susters en my ma in die Volkskas bank gaan sit en iemand het die testament gelees. Verward het ons uitgestap na die lees van die testament. My broer het vir my gesê dat my Pa ‘n saint was. ‘n Saint het ek gewonder. Hoe kon my Pa ‘n saint gewees het? Wat van al die sukkel wat my Pa deurgegaan het. Nou kan ek dink dat dis al die sukkel wat ‘n mens ‘n siant maak.

Ek het wel nie gehuil op die begrafnis nie maar in die jare daarna het ek drome van my Pa gehad. Gesprekke met my Pa gehad. Saam met hom rondgeloop in my drome en snikkend wakker geskrik. In my drome kon ek huil oor my Pa.

Ek besef my Pa het gedink ek was lekker verward in die jare voor sy dood. Tog het hy my aanvaar met al my verwardheid. Ek het weggeloop van ‘n studiebeurs in Bestuursielkunde vir ‘n graad in Kuns! Hoeveel keer moes hy nie sy kop in sy hande gesit het in moedeloosheid. Die arme man. Sekerlik het ek ook gehelp om hom na sy graf te stuur in my onkunde en in my poging om my lewe te leef. En daarom maak ek ‘n punt om nogsteeds te skilder en nogsteed in ‘n praktiese kunsvorm deel te neem omdat ek dit aan my Pa skuld.

Ek onthou  baie wonderlike dinge van my Pa. Ongelukkig het sy dood my gedagtes oorgeneem vanoggend. Ek sal weer skryf.

Na my broers die joernaal inskrywing gelees het, het hulle my ingelig dat my Pa dood is in 1990. 28 jaar gelede. En hulle het my ingelig van ‘n paar dinge soos dat my Pa se begrafnis op my oudste suster se verjaarsdag was. Wat baie sleg is. Lyk my ek het afgeskakel na ek die briefie van my broer gekry het waarin hy my laat weet my Pa is dood.

Wapens, honde, aangetroudes, en skape.

20140615_101405Ons was oppad huis toe van die Dorp af, na kerk of a skool funksie. Dit was donker nag. Net die kar se ligte om die pad te kan sien. Al met die grond pad. Die gorrel-gorrel van die wielle op die grond sus my vaak. Verby die graansuier, die treinspoor, af langs oom Basie se plaas, Oom Jaap se plaas, maar Oom Jaap hulle het dorp toe getrek. Net na ons afgedraai het in ons paadjie in, sien ons die man daar staan langs die doring draad. Ons het hom gevang in ons 80s audi en daar staan hy gevries in die lig. Waarheen gaan hy so in die donker sonder ‘n lig of enige hulp? Hy soek vir moeilikheid so laat in die nag, wie weet hy mag dalk n skaap steel. Dit was nie iemand wat ons geken het nie. My Pa het gestop en sy pistool onder die kar se sitplek uitgehaal. My Ma het gesê, nee my skat moennie, maar my Pa het nie gehoor nie. My Pa skiet ‘n skoot in die lug, dit weergalm deur die stil nag. Van die man langs die pad was daar geen teken nie. Die doring draad bewe.

Dit bring my by my Pa en sy wapens. Sy wapens was veilig weggesit in n brandkluis langs die ouer bed. Net hy het ‘n sleutel gehad. Miskien het my Ma ook een gehad. ‘n Punt 22, ‘n pistool, ‘n windbuks, ‘n baie ou geweer van die boereoorlog, en dan ook ‘n hael geweer. Ek is seker dit was die tipiese wapens wat enige boer daai tyd in sy brandkluis sou gehad het. Daar was ook juwele, belangrike papiere en verrassend genoeg ‘n afkinpsel van my jong kind hare vas gebind met ‘n swart fluweel bandjie.

Waarvoor het my Pa sy wapens gebruik? Vir beskerming, ja sekerlik maar ek kan die kere wat hy dit vir beskerming moes gebruik het op een hand tel. Daar was die keer toe daar in die middel van die nag ‘n ou karretjie gestop het in ons agter plaas. Die honde het geblaf vir die man met sy woeste hare. Toe nog ‘n vreemdeling. My Pa was daar waggend met sy pistool. Wie was hy? Wat soek hy daar? Die man was toe sy toekomstige skoonseun wat al die pad van Stellenbosch gery het tot in die vrystaat om ouers te vra. ek dink ook my Pa se goeie vriend Oom Willem is soms met ‘n pistool in die hand gegroet as hy middernag by ons aan kom vir ‘n lekker kuier,

Daar was natuurlik ander dinge waarvoor my Pa ‘n geweer gebruik het. Om slange wat te na aan die huis kom te skiet. Om slagbeeste te skiet en om honde te skiet.

Ek het nooit waargeneem hoe my pa en soms my broers  die ossies vir slag skiet nie. Ongelukkig wanneer hulle die ossie nie met die eerste skoot kon vrek kry nie het die ossies weggehardloop al om ons plaashuis. ‘n Mens kon die ossie se weg vlug pad volg deur te luister na die desperate gebulk en doef doef van beeshoewe. Die gespanne maar opgewonde stemme van my pa en die werkers soos hulle die ossie volg al om die huis. Dan ‘n finale stilte na ‘n laaste skoot weergalm oor die grasvlaktes.

Die honde was natuurlik ‘n ander storie. ‘n Hartseer storie. Want die honde vang skape. Sodra hulle skape gevang het, was dit verby en ons kinders kon niks doen om hulle te red nie. As hulle eers een skaap gevang het hou hulle nooit op nie. Die armsalige getjank van ‘n hond, wat na vergewing soek. Nie ‘n lekker herinnering nie maar iets wat ons as plaaskinders aanvaar het.

Dan was daar Cheeky, ‘n Wit varkhond wat besluit het om skape te vang was net vir die met swak harte. Wat sy gedoen het was ystervarke jag en soms vang ook. In die oggend het sy baie tevrede, uit asem, bebloed met ystervark penne in die lyf, kom aandag soek. Daarvoor is sy darem nie geksiet nie. En dit was ook Cheeky wat my swaer (dieselfde een wat deur my Pa gegroet is met ‘n pistool) se biltong uit sy tas gesteel het, onder die bed.

 

 

 

Sondag Kerk op die plaas

Sondae was n groot dag op Demilander. Dit was asof al die beeste, die voels, die skape en die varke, maar alles selfs die bome, die blomme, en die gras geweet het dat dit Sondag was. Alles was rustig en stil. My Pa het selfs laat in die bed gebly en my Ma het altyd n lekker ontbyt gemaak. Paptert was n gewilde sondag ontbyt, met bacon. Dan was daar n groot ronde kaas brood met marmite.  En koffie, behalwe my Pa het tee gedrink want hy het nie koffie gedrink nie. My Ma het soveel energie gehad. Vinnig geloop, vinnig kos gemaak, vinnig vir ons laat weet wat ons moet doen.

Sondae het ons op Pa en Ma se groot bed bymekaar gekom en ontbyt ge-eet. Terwyl ons almal nog in ons slaapklere was. Wat n lekker fees. Die son het rustig by die kamer venster in geskyn en ons gevul met n gevoel van Sondag heiligheid. Koor musiek geluister en sommer soms begin kerk luister op die radio nog voor ons almal helder wakker was.

Daar was spesiale klere vir kerk toe gaan wat natuurlik net vir kerk toe gaan gekoop is. Sykouse, skoene soms selfs hoedens en handskoene. Sekerlik het ons alaml vir mekaar geloer en gekyk wie het die mooiste rok aan en vir die ander geslag geloer en gewonder of hulle jou raak sien. Skelm, skelm geloer en gewonder.

Daar was ook glipse in die kerk. Soos die keer toe die dominee vra wat het die wysemanne aan Jesus geskenk gegee met sy geboorte en daar parmantig geantwoord word “parfuum” in plaas van goud, wierook en mirre. En die keer toe die dominee se vals tande uit sy mond geval het toe hy ‘n hoogte punt in sy preek bereik het. Maar ons praat liewers nie daarvan nie.

My ma was orrelis en darom was ons altyd vroeg in die kerk en het baie keer die oggend en die aand diens moes bywoon. So het ons die bybel goed leer ken. Die dominee vertel jou wat jy moet doen om uit die hel te bly en tussendeur sing jy gesange en psalms. Ek onthou die gevoel van my Pa se groot sterk veilige liggaam langs my. Soms het ek my kop teen sy skouer gelê. Dit was lekker. Die orrelspel was vir my die beste deel van die kerk toe gaan. En die lekker saam sing. En tot vandag toe kon ek nog nie ‘n kerk kry om die kindertyd kerk te vervang nie. 23981_383084811686_2754806_n

23981_383084846686_3305395_n

 

Die Plaas Stoep

Een van die lekkerste herinneringe van klein tyd op Demilander was ons stoep. Dit was nie fancy nie, nie luukse pilare of duur meubels nie. Dit was lettelik gelyk met die grond, plat op die aarde. Die klank van die reën was die mooiste musiek ooit. Die teëls is nogsteeds witterig met n growwe dekoratiewe tekstuur. ‘n Tekstuur soos n droë dam of diep geskeurde  marmer.

stoeptekstuur
n tekstuur soos ‘n droë dam.

Soveel keer het ek uitgeloop op die stoep en my Pa daar sien sit op die draad en yster tuin stoel. Met sy koppie tee en sy plaas hoed. Sy khaki klere altyd skoon maar soms n vuil merk van waar hy gewerk het aan ‘n trekker of iets. En dan was die lekkerste ding om my self neer te plak op die teëls voor hom en teen sy bene te leun en saam te luister na die reën en te staar na die vallende druppels. Sy still vaders liggaam agter my het veiligheid beteken. Eers later met groot word, het ek besef hoe my Pa altyd bekommerd was en soms baie depressief oor geld en plaas sake, oor my ma en ons kinders.

My Pa en die plaas was tog in ‘n mate een vir my. Groot, aards, wys, pragtig met misterie en ook ‘n kinds vrees vir die gesag van n ouer.

huis3stoep