Category Archives: kleintyd

In die Bakkie met Pa

Die kere wat ek saam met my Pa in sy bakkie rondgery het is ontelbaar in my kinder kop. Regtig veral die kere wat ek saam met hom Reitz op die Vrystaatse teerpad toe kon ry. Dit was altyd so ‘n voorreg en ‘n bederf gevoel. Snaaks genoeg het ons nie baie gepraat nie. Tog was daar ‘n gevoel van samesyn en kameradie. Baie keer het my Pa sy hand agter my nek gesit en so kontak met my gemaak wat meer beteken het as woorde. Ander kere het ek met my gesig half uit die venster gelê en die wind in my gesig en deur my hare voel waai. Soms het ek myself in die bakkie se spieël dop gehou en verwonderd na myself gekyk.

Om saam met my Pa in die bakkie te ry was totaal en al anders as om saam met die hele familie te ry. Broers en susters het gewoonlik maar met mekaar gekarring oor spasie of hoe jy sit of hoe jy kou of net asem haal. As die jongste moes ek altyd op die kleinste spasie sit. Een keer het ons van Bloemfontein na die Kaap toe gery en ek moes tussen die passasiers en bestuurder stoele op die grond sit.  Daar was darem ‘n kombers om mee te troetel. Gelukkig was ek ‘n buigsame kind gewees nie net liggaamlik nie maar ook geestelik. Was dit voor of na my Pa die geel kombi gekoop het. Die kombis wat nou taxis is was gewild. My oom het ‘n bloue gekoop om al my niggies en nefies in rond te ry.

Dan is daar die twee jaar wat ek en my Ma elke dag skool toe gery het en ek ook die bestuurder kon wees. Ek en my Ma het mekaar goed begin ken daai tyd en op die ou end het ons dit heelwat geniet, die saam ryery. My Ma het ook die ruskans geniet wanneer ek bestuur het. Natuurlik het ‘n mens ook die grond pad begin ken en geweet waar die gate was wat jy moet mis ry. Of watter deel van die pad is ekstra modderig wanneer dit gereën het. Ja, ‘n mens moes ook op en wakker gewees het vir enige beeste of verdwaalde skape wat oor die pad voor jou kar sal loop. Dan moet jy kop hou om vinnig die dier mis te ry maar terselfdertyd nie die motor te rol nie.

Tog daar was tye waar my Pa my gevra het om te bestuur want ek dink hy was te moeg om te ry maar hy moes iets in Kroonstad gaan doen het. Tot my skaamte kon ek op ‘n stadium nie meer my oë oop hou nie as gevolg van allergië. En ek was so teleurgesteld in myself dat ek nie sterk genoeg was om my Pa die heel pad te dryf nie.

‘n Ander keer was ons weer op die pad en die mense wat die pad tussen Petrus Steyn en Edenville in die Vrystaat ken sal weet van ‘n draai om ‘n koppie maar waar daar ook ‘n effense afgrond is. So terwyl ons om die koppie ry, sê ek so ewe vir my Pa dat dit is hoe die lewe is. Jy kan nooit sien wat om die draai gaan gebeur nie. Tot nou toe weet ek nie wat hy nou van hierdie kinderlike wyse woorde gedink het nie.

Advertisements

Perde

Demilander was nie ‘n perd plaas nie. Tog het perde ‘n groot rol gespeel in ons groot word. Sterk het ons gesit op die perde en die perde het ons gerespekteer en vinnig van een plaas na die ander gejaag. Demilander, Vaalbank en DePan het in ‘n driehoek langs mekaar geleef. My niggies en nefies op DePan het gesorg dat ons almal perd ry oor en weer. Hulle het van Depan af na ons toe gery of na Vaalbank toe. Nie perd ry vir pryse of kompetisie nie maar perd ry vir wild wees en klou vir jou lewe aan die perd se sweet lyf. Geen saals nie, geen fancy klere nie. Nie lang boots of ronde helmets nie, maar kaalvoet, kortbroeke en geen handskoene nie. Ons was taai ek sê jou. Regte plaasjapies. Geliefde rabbedoes.

en tog…

Jy val af, natuurlik maar om een of ander rede staan jy op sonder enige probleem, stof die grond af en klim weer op. Ry verder. As jy afval het niemand na jou gehardloop om te help nie, almal het stil gehoop jy’s OK en verlig geglimlag as jy opstaan. Die perde galop gaan voort sonder ‘n probleem. Ja soms mank loop, soms bloed tog die dokter was ver en die dominee nog verder.

My een DePan niggie het aan my en my broer perde gegee. My broer sin was wit en myne was bruin. As kind het ek baie boeke gelees en een van my boeke se titel was Espanje. So het dit gekom dat ek my perd Espanje genoem het, want die spesiale geskenk perdjie het ‘n spesiale naam nodig gehad. Die plaasjapie se eenvoudige drome van vreemde lande. Ongelukkig het my broer Universiteit toe gegaan en my niggies dorp toe getrek en ek was alleen op die plaas met die perde en die genot was weg want die moed het my begewe om op my eie die perde te vang of te ry.

Nou en dan het ek na ons twee perde toe geloop waar hulle wei en vir hulle wortels of appels gevoer en self een keer ‘n bietjie suiker. Maar hulle het nie meer daarvan gehou om gevang te word en gery te word nie. Wild met ‘n sin van onafhanklikheid.

kleintydperde
‘n Juweel van ‘n foto wat my niggie vir my gestuur het. Sy, haar sussie en ‘n vriend is op die perdjie. Dis hoe ons almal daai tyd gelyk het. Ons lyk nie taai nie maar ons was.

Boomklim, Plaas Parkour,

Bo is fotos van die talle Wigerbome en Bloekom bome was ons as kinders gelkim het.

Boomklim, Plaas Parkour. Om as kind op ‘n plaas grrot te word het voordele en is anders as om op die naburige dorp of stad groot te word. Nie dat dit noodwendig beter is nie. Maar dinge soos boomklim was tweede natuur vir ons op Demilander.

Demilaner het twee tipe bome wat goed is vir boomklim. Wilgerbome en Bloekombome. Natuurlik as jy dit doen doen jy dit op jou eie risiko. In my opinie was die Wilgerbome beter en makliker om te klim. Die bome is ‘n paar verdiepings hoog.  As kinders het ons en ons naburige familie, vakansies en naweke afgehardloop na die wilgerbome. Ten minste 400 meter van die huis af en begin klim. Soms was dit ‘n kompetiesie om te kyk wie kon van die grond na die hoogste punt die vinnigste klim. Ander kere het ons rustig geklim en elkeen sy eie tak ge-eien. Die punt was om jou tak te beskerm. As jongste kind bevind ek myself alleen op die plaas tussen 16 en 17. Boomklim toe was meer vir dagdrome en self ondersoeking.

Dit was gevaarlik ja. Ek het nogsteed ‘n litteken op my linkerskouer van waar ek geval het in ‘n skerp tak. Snaaks genoeg is ek nie hospitaal toe gejaag nie en was dit ook nie ‘n “big deal” gewees nie.

Dit was lekker. Dit was opwindend en het altyd ‘n mate van vrees opgeroep. Boomklim is die plaasjapie se parkour. Vir die wat nie weet wat parkour is nie, parkour is om so vinnig as moontlik van punt A na punt B te beweeg deur te klim, te spring, te bommelakiesie, en te duik in n stads omgewing. Hier is n wiki inskrywing as jy meer wil weet. PARKOUR-WIKIPEDIA 

Die Tuin

‘n Paar fotos van die tuin. Onder die pragtige Krismis Rose voor my Pa se studeer kamer.

As kind is dit asof als verewig dieslefde sal bly. Dat ‘n leeftyd saam verewig is. Tog eendag draai jy na die persoon wat altyd langs jou was en daar is niemand nie. ‘n Pragtige eggo, ‘n mistige herinnering, kleintyd, grootword. Sekere plekke of gebeurtenisse of mense skitter egter in jou persoonlik geskiedenis.

Demilander se tuin is of was so ‘n juweel. Dit her regtig onder my ma se bekwame oog gegroei van ‘n stowwerige stuk grond tot ‘n oase. Ek dink my Pa het geweet dat my Ma ‘n bekwame vrou is wat sekerlik lewe sal gee aan enige grys grond. Om nie eers te praat van die kolossale vrugte oord en groente tuin nie. Demilander se tuin was gevul met verskeie tipe bome. Karee bome, Wilger bome, Kanferfoelie. “n Groot, vriendelike Denne boom net langs die hek. Elke jaar kon ons ‘n tak afsaag en as ‘n Kersfees boom gebruik. Soel aande waar die familie saam kom en koffie drink, tert eet terwyl ons opgewonde na my suster se stories oor Duitsland luister. Aan die kant van die sonkamer was daar Olifantsgras wat amper hoër as die huis was. Voor my pa se studeerkamer was daar Crismisrose. Ag, dit was ‘n fees van kleur en geur.

As tiener het my ma my na ‘n kamer met ‘n tuin uitsig getrek en met die het ek baie meer bewus geraak van wat in die tuin aangaan. Hadedas wat soos dominees in die tuin rondstap en preek. Gewoonlik 3 van hulle. Waaier stert duiwe wat in ‘n wit ontploffing opwaarts vladder wanneer my ma en pa hand aan hand, gesels, gesels deur die tuin stap en die plante bewonder. Die geritsel van die sirkel sproeier water op die groen gras. Skoenlappers. Waaroor sou hulle praat. het ek gewonder of was dit die tyd wat hulle vergeet van al die probleme en net die prag blomme geniet. As iemand wat nie ‘n groen duim het nie verwonder ek my nogsteeds aan die tuin, soveel toewyding het daarin gegaan asof dit nooit verwaarloos en vergete sou word nie.

Tog nie heeltemal vergete nie, tog nie altyd verwaarloos nie. Dis goed om te onthou dit wat lekker was en dit wat goed was.

 

Wapens, honde, aangetroudes, en skape.

20140615_101405Ons was oppad huis toe van die Dorp af, na kerk of a skool funksie. Dit was donker nag. Net die kar se ligte om die pad te kan sien. Al met die grond pad. Die gorrel-gorrel van die wielle op die grond sus my vaak. Verby die graansuier, die treinspoor, af langs oom Basie se plaas, Oom Jaap se plaas, maar Oom Jaap hulle het dorp toe getrek. Net na ons afgedraai het in ons paadjie in, sien ons die man daar staan langs die doring draad. Ons het hom gevang in ons 80s audi en daar staan hy gevries in die lig. Waarheen gaan hy so in die donker sonder ‘n lig of enige hulp? Hy soek vir moeilikheid so laat in die nag, wie weet hy mag dalk n skaap steel. Dit was nie iemand wat ons geken het nie. My Pa het gestop en sy pistool onder die kar se sitplek uitgehaal. My Ma het gesê, nee my skat moennie, maar my Pa het nie gehoor nie. My Pa skiet ‘n skoot in die lug, dit weergalm deur die stil nag. Van die man langs die pad was daar geen teken nie. Die doring draad bewe.

Dit bring my by my Pa en sy wapens. Sy wapens was veilig weggesit in n brandkluis langs die ouer bed. Net hy het ‘n sleutel gehad. Miskien het my Ma ook een gehad. ‘n Punt 22, ‘n pistool, ‘n windbuks, ‘n baie ou geweer van die boereoorlog, en dan ook ‘n hael geweer. Ek is seker dit was die tipiese wapens wat enige boer daai tyd in sy brandkluis sou gehad het. Daar was ook juwele, belangrike papiere en verrassend genoeg ‘n afkinpsel van my jong kind hare vas gebind met ‘n swart fluweel bandjie.

Waarvoor het my Pa sy wapens gebruik? Vir beskerming, ja sekerlik maar ek kan die kere wat hy dit vir beskerming moes gebruik het op een hand tel. Daar was die keer toe daar in die middel van die nag ‘n ou karretjie gestop het in ons agter plaas. Die honde het geblaf vir die man met sy woeste hare. Toe nog ‘n vreemdeling. My Pa was daar waggend met sy pistool. Wie was hy? Wat soek hy daar? Die man was toe sy toekomstige skoonseun wat al die pad van Stellenbosch gery het tot in die vrystaat om ouers te vra. ek dink ook my Pa se goeie vriend Oom Willem is soms met ‘n pistool in die hand gegroet as hy middernag by ons aan kom vir ‘n lekker kuier,

Daar was natuurlik ander dinge waarvoor my Pa ‘n geweer gebruik het. Om slange wat te na aan die huis kom te skiet. Om slagbeeste te skiet en om honde te skiet.

Ek het nooit waargeneem hoe my pa en soms my broers  die ossies vir slag skiet nie. Ongelukkig wanneer hulle die ossie nie met die eerste skoot kon vrek kry nie het die ossies weggehardloop al om ons plaashuis. ‘n Mens kon die ossie se weg vlug pad volg deur te luister na die desperate gebulk en doef doef van beeshoewe. Die gespanne maar opgewonde stemme van my pa en die werkers soos hulle die ossie volg al om die huis. Dan ‘n finale stilte na ‘n laaste skoot weergalm oor die grasvlaktes.

Die honde was natuurlik ‘n ander storie. ‘n Hartseer storie. Want die honde vang skape. Sodra hulle skape gevang het, was dit verby en ons kinders kon niks doen om hulle te red nie. As hulle eers een skaap gevang het hou hulle nooit op nie. Die armsalige getjank van ‘n hond, wat na vergewing soek. Nie ‘n lekker herinnering nie maar iets wat ons as plaaskinders aanvaar het.

Dan was daar Cheeky, ‘n Wit varkhond wat besluit het om skape te vang was net vir die met swak harte. Wat sy gedoen het was ystervarke jag en soms vang ook. In die oggend het sy baie tevrede, uit asem, bebloed met ystervark penne in die lyf, kom aandag soek. Daarvoor is sy darem nie geksiet nie. En dit was ook Cheeky wat my swaer (dieselfde een wat deur my Pa gegroet is met ‘n pistool) se biltong uit sy tas gesteel het, onder die bed.

 

 

 

Sondag Kerk op die plaas

Sondae was n groot dag op Demilander. Dit was asof al die beeste, die voels, die skape en die varke, maar alles selfs die bome, die blomme, en die gras geweet het dat dit Sondag was. Alles was rustig en stil. My Pa het selfs laat in die bed gebly en my Ma het altyd n lekker ontbyt gemaak. Paptert was n gewilde sondag ontbyt, met bacon. Dan was daar n groot ronde kaas brood met marmite.  En koffie, behalwe my Pa het tee gedrink want hy het nie koffie gedrink nie. My Ma het soveel energie gehad. Vinnig geloop, vinnig kos gemaak, vinnig vir ons laat weet wat ons moet doen.

Sondae het ons op Pa en Ma se groot bed bymekaar gekom en ontbyt ge-eet. Terwyl ons almal nog in ons slaapklere was. Wat n lekker fees. Die son het rustig by die kamer venster in geskyn en ons gevul met n gevoel van Sondag heiligheid. Koor musiek geluister en sommer soms begin kerk luister op die radio nog voor ons almal helder wakker was.

Daar was spesiale klere vir kerk toe gaan wat natuurlik net vir kerk toe gaan gekoop is. Sykouse, skoene soms selfs hoedens en handskoene. Sekerlik het ons alaml vir mekaar geloer en gekyk wie het die mooiste rok aan en vir die ander geslag geloer en gewonder of hulle jou raak sien. Skelm, skelm geloer en gewonder.

Daar was ook glipse in die kerk. Soos die keer toe die dominee vra wat het die wysemanne aan Jesus geskenk gegee met sy geboorte en daar parmantig geantwoord word “parfuum” in plaas van goud, wierook en mirre. En die keer toe die dominee se vals tande uit sy mond geval het toe hy ‘n hoogte punt in sy preek bereik het. Maar ons praat liewers nie daarvan nie.

My ma was orrelis en darom was ons altyd vroeg in die kerk en het baie keer die oggend en die aand diens moes bywoon. So het ons die bybel goed leer ken. Die dominee vertel jou wat jy moet doen om uit die hel te bly en tussendeur sing jy gesange en psalms. Ek onthou die gevoel van my Pa se groot sterk veilige liggaam langs my. Soms het ek my kop teen sy skouer gelê. Dit was lekker. Die orrelspel was vir my die beste deel van die kerk toe gaan. En die lekker saam sing. En tot vandag toe kon ek nog nie ‘n kerk kry om die kindertyd kerk te vervang nie. 23981_383084811686_2754806_n

23981_383084846686_3305395_n

 

Rondloop in kaalvoete

Ek het baie kaalvoet rondgeloop op die plaas. Rondgeloop en als om my waargeneem. Meer soos ‘n afloerder,  as iemand wat ten volle deel was van al die gebeure op die plaas. Maar kaalvoet het my gewortel in die plaasgrond, die gevoel van gras, klippies en grond het my glad nie geintimedeer nie. My voete was sterk en gesond. Met hulle kon ek boom klim, op mure en dakke rondloop, perdry en val.

Daar was mense wat die agterplaas skoon gevee het met besems wat van takke en lang geel gras gemaak was. Krom het hulle rondgeloop met ‘n ritme wat ‘n vredesgevoel in ons almal veroorsaak het. Babas op hulle rug toegevou met lappe. Die skraap klank van die besems ‘n slaap lied vir die babas. Skraap, skraap, slaap, slaap my kind. Vandag is die kaal grond toe gegroei met gras en word in toom gehou met ‘n rasende lem.

Ek het my verwonder aan die mense wat so gemaklik en rustig met die aarsde besems kon loop en vee. Teurg by hulle eie huisies het hulle dieselfde gedoen, trots skoon gevee. Kon ek hul pyn sien? Die pyn het later gekom toe daar nie meer grond was om skoon te vee nie.

Die persoon wat ons op die plaas gehou het, was ons pa. Kan jy jou self indink hoe sterk ‘n boer se karakter moet wees om ‘n plaas se klein gemeenskap te kan saam bind en te kan laat floereer op ‘n stuk grond?

agterplaas2
Die telefoonpaal is ook sigbaar in die onderste foto. Hierdie foto is plus minus 40 jaar na onderste foto geneem.
agterplaas
Die agterplaas. Ek dink die gebou regs moes die buitenste kleinhuise gewees het. Lank reeds afgebreek. ‘n Foto van ou boet, ou sussies en Ouma min of meer 1970.