Category Archives: begrafnis

Pa se geboortedag -Pa se doodsdag

Net so paar dae gelede, op April 20, was dit my Pa se verjaarsdag. Ons vier dit nie meer soos in die dae toe hy nog geleef het nie. Nou onthou ons hom aan mekaar. “Onthou dis Pa se verjaarsdag môre”. Ek kan nie al my Pa se verjaarsdag vierings onthou nie. Met kinderlike selfsugtugheid, kan ek my eie verjaarsdae beter onthou. Tog ek kan onthou dat my Ma vir my Pa Monchichis gekoop het en ek kan onthou dat daar een keer ‘n groot makietie was. In die stoor, met ‘n skaap of ‘n vark wat om en om die spit gedraai het. Dit het gelyk asof almal ‘n goeie tyd gehad het. Ons het op reghoekige hooi bale gesit. Ek was as kind so bly om te sien hoeveel vriende my Pa se verjaarsdag kom vier het.

Ek kan nie onhou wat die datum was toe hy doodgegaan het nie. Ek voel verlig daaroor. Dis tog soveel beter om iemand se geboortedag te onthou as die doodsdag. Miskien sal mense nie saam met my stem nie. Nou dat ek aan die doodsdag begin dink het, word my brein oorvloed met woorde en beelde van die dood. Ongelukkig het ek my Pa net ‘n paar maande meer as 21 jaar geken. Wat beteken dat ek hom eintlik nie baie goed geken het nie. Is dit nie hartseer nie? Was dit 26 of 27 jaar gelede?

Alhoewel ek nie die presiese dag onthou nie is daar tog ‘n mate van ‘n skuldsgevoel wat  altyd op my rug kom sit soos ‘n vet, slymerige, slak wanneer my Pa se dood opkom. Die feit dat ek nie bekikbaar was nie, dat terwyl my Pa besig was om in pyn sterf, was ek besig om te leef. Toe my Ma op haar kneë hartsverkeurend gehuil het was ek besig om by ‘n kêrel te kuier. Skokkend onthou ek terwyl ek onwetend in ‘n omhelsing van die kêrel was het ek ‘n visie gehad van ‘n kop wat afgeruk word en bloed wat soos ‘n vulkaan uit die nek uit spuit. Miskien was dit my Pa wat vir oulaas sy sê kom sê het oor my kêrels.

Gin wonder dit het nie uitgewerk tussen my die die kêrel nie. Ek wonder altyd of dit die oomblik was dat my Pa sy laaste asem uitgeblaas het. Hoekom anders sou ek so iets visualiseer op daardie aand? Iets wat nooit weer gebeur het nie.

As ek dink aan my Pa se dood dan onthou ek ook hoe hard hy gewerk het om te lewe. Van die eerste keer wat hy in die hospitaal beland het met sy hartaanvalle. Hy het elke dag begin stap vir oefeninge. My ma het saam met hom gestap. Hand in hand, van die huis af na die strooise toe en terug. Hy moes soveel goed opgee waarvoor hy lief was. Iets eenvoudigs soos onder andere aartappels. Eendag het hy ons gevra of ons dink hy moet ‘n nuwe hart kry? ‘n Vriend het aangebied om vir die operasie te betaal. Ja het ek gese dit sal wonderlike wees as Pa nog baie, baie jare saam met ons kan wees. Ongelukkig was dit nie genoeg nie, ongelukkig het die operasie nooit plaas gevind nie. Miskien onthou ek dit verkeerd miskien was dit net die oopmaak van die are om sy hart en nie ‘n nuwe hart nie.

Ek kan nie onthou hoe ek by ons huis gekom het nie na my Pa se dood nie. Het ek saam met my broer gery? Het iemand anders my na die plaas toe gevat? Ek kon sien in die oe van my familie en ander vriendelike medelewende mense dat hulle nie kan verstaan waarom ek nie huil nie. Ek onthou dat ek by die trappe afgestap by my tannie se huis in die dorp en my ma het met ‘n krakerige breekende stem gese dat Pappa dood is. Tog ek dink ek was kwaad dat hy dood is, dood was. Hoe is so iets dan moontlik? Hoekom het hy nie die groot hart operasie ondergaan wat hom nog jare saam met ons sou laat leef het nie. Ek was ook moedeloos. Nie hartseer nie maar kwaad en moedeloos.

My broers en my Ma het my na Afbob daar in Heilbron gevat om na my pa se lyk, se liggaam te gaan kyk. Ek het gehoor dat hulle dink ek sal dan huil as ek sy liggaam sien en hardkoppig het ek geweier om te huil of aan my pa se liggaam te vat. Hy het so alleen gelyk daar op die harde, silver skinkbord. So bleek en maer en klein.  Dit was nie my Pa nie. My Pa was groot en warm. My Pa het klein plooitjies om sy oë gehad en sproete op sy voorarms. My Pa het groot warm hande gehad wat my hande kon toe vou en vashou en toe en nou, was al daai Pa-geit weg.

Na die begrafnis het my broers, susters en my ma in die Volkskas bank gaan sit en iemand het die testament gelees. Verward het ons uitgestap na die lees van die testament. My broer het vir my gesê dat my Pa ‘n saint was. ‘n Saint het ek gewonder. Hoe kon my Pa ‘n saint gewees het? Wat van al die sukkel wat my Pa deurgegaan het. Nou kan ek dink dat dis al die sukkel wat ‘n mens ‘n siant maak.

Ek het wel nie gehuil op die begrafnis nie maar in die jare daarna het ek drome van my Pa gehad. Gesprekke met my Pa gehad. Saam met hom rondgeloop in my drome en snikkend wakker geskrik. In my drome kon ek huil oor my Pa.

Ek besef my Pa het gedink ek was lekker verward in die jare voor sy dood. Tog het hy my aanvaar met al my verwardheid. Ek het weggeloop van ‘n studiebeurs in Bestuursielkunde vir ‘n graad in Kuns! Hoeveel keer moes hy nie sy kop in sy hande gesit het in moedeloosheid. Die arme man. Sekerlik het ek ook gehelp om hom na sy graf te stuur in my onkunde en in my poging om my lewe te leef. En daarom maak ek ‘n punt om nogsteeds te skilder en nogsteed in ‘n praktiese kunsvorm deel te neem omdat ek dit aan my Pa skuld.

Ek onthou  baie wonderlike dinge van my Pa. Ongelukkig het sy dood my gedagtes oorgeneem vanoggend. Ek sal weer skryf.

Na my broers die joernaal inskrywing gelees het, het hulle my ingelig dat my Pa dood is in 1990. 28 jaar gelede. En hulle het my ingelig van ‘n paar dinge soos dat my Pa se begrafnis op my oudste suster se verjaarsdag was. Wat baie sleg is. Lyk my ek het afgeskakel na ek die briefie van my broer gekry het waarin hy my laat weet my Pa is dood.

Advertisements