Category Archives: afrikaans

Vlêr-muisneste

Op ons plaas het daar baie vlêrmuise rondgevlieg. Jubelend rondgevlieg totdat hulle in ons pad gekom het.  In my gedagtes is hulle swart, klein en vinnig. As die son ondergaan begin hulle vlieg, duik en biep biep verby jou. Vlêrmuise is eintlike die enigste soogdier wat kan vlieg vir lang tye.

Ons het almal groot geword met die storie dat ‘n vlêrmuis ‘n nes in jou hare sal maak en daarom het ek altyd met my kop onder die kombers geslaap as kind. Net my neus het uitgesteek. Ook het my kinder kop altyd muisneste en vlêrmuise onder een kappie gesit. Tot vandag hou ek nie daarvan om muisneste te hê nie.

Maar werklik het ons die vlêrmuise in vrede gelos totdat hulle parmantig en onkundig in ons huis ingevlieg het. Op sig self is ‘n vlêrmuis sekerlik skadeloos en eet hulle gewoonlik vrugte of insekte. Daar is ‘n interesante artikel oor vlêrmuise in “Die Veepos, Oktober 2013, bladsy 5.” Daar verduidelik hulle dat vlêrmuise tot 600 insekte per uur kan vang en eet. Dit kan die boere tog baie geld spaar met insekgif en insek beperking.

Tog as ‘n vlêremuis in ons huis op Demilander ingevlieg het, het dit groot opwinding en konsternasie veroorsaak. Ons almal het ‘n tennis raket gegryp en die spel het begin om die vlêrmuis raak te slaan. Hoe mal is dit dan nie. Die een wat die vlêrmuis eerste raak slaan was natuurlik die wenner alhoewel niemand eintlik iets gewen het nie. As ek reg onthou, het ek gou-gou gaan wegkruip sodat die vlêrmuis nie ‘n nes in my hare maak nie. Lagwekkend as ek nou terug dink daaraan.

Die lekkerste herinneging wat vlêrmuise opwek is die keer toe ‘n groot groep vlêrmuise in ons solder ingetrek het en daar besluit is om die pes uit te rook. My pa het nogal beplan hiervoor sekerlik om seker te maak dat die huis nie afgebrand word nie in die proses nie. Die proses sou ook ‘n paar dae vat want die vlêrmuise sou seker maar stadig die huis se solder verlaat.

Dit is toe dat my ma vir ons ‘n plakkers kamp in ons sitkamer gemaak het met kombers mure, slaapsakke, en kussings. My ma en pa het hulle deel gehad, ek en my sussies ‘n ander en my boeties ook op hulle eie. Uiteindelik was al die vlêrmuise uit en kon ons weer normaal leef.

Die onderliggende geweld wat saam met die herinnering gaan is tipies van groot word op ‘n plaas. Ek wonder wat my broers en susters van hierdie voorval onthou. Dit was wel groot opwinding vir my as kind.

Nog interesante artikels oor vlêrmuise. Addo Dung Beetle Guest Farm se webplaas. hulle praat spesifiek oor die mites en die feite. Asook SouthAfrica.com. En kyk wat sê hulle oor vlêrmuise wat nes maak in jou hare.

Maar natuurlik het ek nou hierdie beeld in my kop van ‘n fantasties karakter met ‘n klomp vlêrmuise in hare. Wat sal ons haar noem. Maria Muisnesta, Fanievlêrmuis, of Nessie Nes.

Advertisements

Ingrid Jonker Faceboek Nie

Wat sou Ingrid Jonker van Facebook gedink het? Sou sy geniet het om so konstante kontak te hê met vriende, familie, medewerkers en totale vreemdelinge.
As sy sê “ek wil nie hoor hoe hul wag op gevlerkte briewe nie
ek wil nie hoor hoe hulle wakker lê in hul oogkasse wyl
die ander slaap wyd soos die horison om sy wenkbroue en wat wil ek weet van hul eenderse kwale die een sonder eierstokke die ander met leukemia
die kind sonder ‘n draaiorreltjie en die ou man…”
dan dink ek dat sy dalk facebook nie sou geniet het nie.
Snaaks hoe ek kan assosieer met daai eerste sin “ek wil nie meer besoek ontvang nie”

Ek wil nie meer besoek ontvang nie
nóg met koppies tee boeretroos en veral nie brandewyn nie
ek wil nie hoor hoe hul wag op gevlerkte briewe nie
ek wil nie hoor hoe hulle wakkerlê in hul oogkasse wyl
die ander slaap wyd soos die horison om sy wenkbroue

en wat wil ek weet van hul eenderse kwale
die een sonder eierstokke, die ander met leukemia
die kind sonder ‘n draaiorreltjie en die ou man
wat al vergeet het dat hy doof is
die bevlieging van die dood in die robots van groen
die mense wat leef by die see soos in die Sahara
die verraaiers van die lewe met die gesig van die dood en van God

ek wil net alleen wees op reis met my eensaamheid
soos ‘n wandelstok
en glo dat ek nog enig is

-Ingrid Jonker-

Dankie Ingrid Jonker

ek kan ook nou sê
Ek wil nie meer faceboek nie
nog met likes, loves, sad, of dalk mad
Ek wil nie hoor hoe mense dink of eet of drink of stem of skiet nie
Ek wil nie hê mense moet hoor hoe ek dink of wakker lê in my oogkasse nie.
en wat sal ek nou wil weet van mense wat vlieg of by die huis sit
en wat wil jy nou weet of ek een eierstok het of my bank dalk overdraft is.
of dat jy dalk van gewere hou en ek nie, of van brandewyn en ek hou van sjokolade
Ek wil net soos Ingrid Jonker dink ek is enig in my mensheid.

met ‘n rooi hart en ‘n skaterlag

In die Bakkie met Pa

Die kere wat ek saam met my Pa in sy bakkie rondgery het is ontelbaar in my kinder kop. Regtig veral die kere wat ek saam met hom Reitz op die Vrystaatse teerpad toe kon ry. Dit was altyd so ‘n voorreg en ‘n bederf gevoel. Snaaks genoeg het ons nie baie gepraat nie. Tog was daar ‘n gevoel van samesyn en kameradie. Baie keer het my Pa sy hand agter my nek gesit en so kontak met my gemaak wat meer beteken het as woorde. Ander kere het ek met my gesig half uit die venster gelê en die wind in my gesig en deur my hare voel waai. Soms het ek myself in die bakkie se spieël dop gehou en verwonderd na myself gekyk.

Om saam met my Pa in die bakkie te ry was totaal en al anders as om saam met die hele familie te ry. Broers en susters het gewoonlik maar met mekaar gekarring oor spasie of hoe jy sit of hoe jy kou of net asem haal. As die jongste moes ek altyd op die kleinste spasie sit. Een keer het ons van Bloemfontein na die Kaap toe gery en ek moes tussen die passasiers en bestuurder stoele op die grond sit.  Daar was darem ‘n kombers om mee te troetel. Gelukkig was ek ‘n buigsame kind gewees nie net liggaamlik nie maar ook geestelik. Was dit voor of na my Pa die geel kombi gekoop het. Die kombis wat nou taxis is was gewild. My oom het ‘n bloue gekoop om al my niggies en nefies in rond te ry.

Dan is daar die twee jaar wat ek en my Ma elke dag skool toe gery het en ek ook die bestuurder kon wees. Ek en my Ma het mekaar goed begin ken daai tyd en op die ou end het ons dit heelwat geniet, die saam ryery. My Ma het ook die ruskans geniet wanneer ek bestuur het. Natuurlik het ‘n mens ook die grond pad begin ken en geweet waar die gate was wat jy moet mis ry. Of watter deel van die pad is ekstra modderig wanneer dit gereën het. Ja, ‘n mens moes ook op en wakker gewees het vir enige beeste of verdwaalde skape wat oor die pad voor jou kar sal loop. Dan moet jy kop hou om vinnig die dier mis te ry maar terselfdertyd nie die motor te rol nie.

Tog daar was tye waar my Pa my gevra het om te bestuur want ek dink hy was te moeg om te ry maar hy moes iets in Kroonstad gaan doen het. Tot my skaamte kon ek op ‘n stadium nie meer my oë oop hou nie as gevolg van allergië. En ek was so teleurgesteld in myself dat ek nie sterk genoeg was om my Pa die heel pad te dryf nie.

‘n Ander keer was ons weer op die pad en die mense wat die pad tussen Petrus Steyn en Edenville in die Vrystaat ken sal weet van ‘n draai om ‘n koppie maar waar daar ook ‘n effense afgrond is. So terwyl ons om die koppie ry, sê ek so ewe vir my Pa dat dit is hoe die lewe is. Jy kan nooit sien wat om die draai gaan gebeur nie. Tot nou toe weet ek nie wat hy nou van hierdie kinderlike wyse woorde gedink het nie.

Pa se geboortedag -Pa se doodsdag

Net so paar dae gelede, op April 20, was dit my Pa se verjaarsdag. Ons vier dit nie meer soos in die dae toe hy nog geleef het nie. Nou onthou ons hom aan mekaar. “Onthou dis Pa se verjaarsdag môre”. Ek kan nie al my Pa se verjaarsdag vierings onthou nie. Met kinderlike selfsugtugheid, kan ek my eie verjaarsdae beter onthou. Tog ek kan onthou dat my Ma vir my Pa Monchichis gekoop het en ek kan onthou dat daar een keer ‘n groot makietie was. In die stoor, met ‘n skaap of ‘n vark wat om en om die spit gedraai het. Dit het gelyk asof almal ‘n goeie tyd gehad het. Ons het op reghoekige hooi bale gesit. Ek was as kind so bly om te sien hoeveel vriende my Pa se verjaarsdag kom vier het.

Ek kan nie onhou wat die datum was toe hy doodgegaan het nie. Ek voel verlig daaroor. Dis tog soveel beter om iemand se geboortedag te onthou as die doodsdag. Miskien sal mense nie saam met my stem nie. Nou dat ek aan die doodsdag begin dink het, word my brein oorvloed met woorde en beelde van die dood. Ongelukkig het ek my Pa net ‘n paar maande meer as 21 jaar geken. Wat beteken dat ek hom eintlik nie baie goed geken het nie. Is dit nie hartseer nie? Was dit 26 of 27 jaar gelede?

Alhoewel ek nie die presiese dag onthou nie is daar tog ‘n mate van ‘n skuldsgevoel wat  altyd op my rug kom sit soos ‘n vet, slymerige, slak wanneer my Pa se dood opkom. Die feit dat ek nie bekikbaar was nie, dat terwyl my Pa besig was om in pyn sterf, was ek besig om te leef. Toe my Ma op haar kneë hartsverkeurend gehuil het was ek besig om by ‘n kêrel te kuier. Skokkend onthou ek terwyl ek onwetend in ‘n omhelsing van die kêrel was het ek ‘n visie gehad van ‘n kop wat afgeruk word en bloed wat soos ‘n vulkaan uit die nek uit spuit. Miskien was dit my Pa wat vir oulaas sy sê kom sê het oor my kêrels.

Gin wonder dit het nie uitgewerk tussen my die die kêrel nie. Ek wonder altyd of dit die oomblik was dat my Pa sy laaste asem uitgeblaas het. Hoekom anders sou ek so iets visualiseer op daardie aand? Iets wat nooit weer gebeur het nie.

As ek dink aan my Pa se dood dan onthou ek ook hoe hard hy gewerk het om te lewe. Van die eerste keer wat hy in die hospitaal beland het met sy hartaanvalle. Hy het elke dag begin stap vir oefeninge. My ma het saam met hom gestap. Hand in hand, van die huis af na die strooise toe en terug. Hy moes soveel goed opgee waarvoor hy lief was. Iets eenvoudigs soos onder andere aartappels. Eendag het hy ons gevra of ons dink hy moet ‘n nuwe hart kry? ‘n Vriend het aangebied om vir die operasie te betaal. Ja het ek gese dit sal wonderlike wees as Pa nog baie, baie jare saam met ons kan wees. Ongelukkig was dit nie genoeg nie, ongelukkig het die operasie nooit plaas gevind nie. Miskien onthou ek dit verkeerd miskien was dit net die oopmaak van die are om sy hart en nie ‘n nuwe hart nie.

Ek kan nie onthou hoe ek by ons huis gekom het nie na my Pa se dood nie. Het ek saam met my broer gery? Het iemand anders my na die plaas toe gevat? Ek kon sien in die oe van my familie en ander vriendelike medelewende mense dat hulle nie kan verstaan waarom ek nie huil nie. Ek onthou dat ek by die trappe afgestap by my tannie se huis in die dorp en my ma het met ‘n krakerige breekende stem gese dat Pappa dood is. Tog ek dink ek was kwaad dat hy dood is, dood was. Hoe is so iets dan moontlik? Hoekom het hy nie die groot hart operasie ondergaan wat hom nog jare saam met ons sou laat leef het nie. Ek was ook moedeloos. Nie hartseer nie maar kwaad en moedeloos.

My broers en my Ma het my na Afbob daar in Heilbron gevat om na my pa se lyk, se liggaam te gaan kyk. Ek het gehoor dat hulle dink ek sal dan huil as ek sy liggaam sien en hardkoppig het ek geweier om te huil of aan my pa se liggaam te vat. Hy het so alleen gelyk daar op die harde, silver skinkbord. So bleek en maer en klein.  Dit was nie my Pa nie. My Pa was groot en warm. My Pa het klein plooitjies om sy oë gehad en sproete op sy voorarms. My Pa het groot warm hande gehad wat my hande kon toe vou en vashou en toe en nou, was al daai Pa-geit weg.

Na die begrafnis het my broers, susters en my ma in die Volkskas bank gaan sit en iemand het die testament gelees. Verward het ons uitgestap na die lees van die testament. My broer het vir my gesê dat my Pa ‘n saint was. ‘n Saint het ek gewonder. Hoe kon my Pa ‘n saint gewees het? Wat van al die sukkel wat my Pa deurgegaan het. Nou kan ek dink dat dis al die sukkel wat ‘n mens ‘n siant maak.

Ek het wel nie gehuil op die begrafnis nie maar in die jare daarna het ek drome van my Pa gehad. Gesprekke met my Pa gehad. Saam met hom rondgeloop in my drome en snikkend wakker geskrik. In my drome kon ek huil oor my Pa.

Ek besef my Pa het gedink ek was lekker verward in die jare voor sy dood. Tog het hy my aanvaar met al my verwardheid. Ek het weggeloop van ‘n studiebeurs in Bestuursielkunde vir ‘n graad in Kuns! Hoeveel keer moes hy nie sy kop in sy hande gesit het in moedeloosheid. Die arme man. Sekerlik het ek ook gehelp om hom na sy graf te stuur in my onkunde en in my poging om my lewe te leef. En daarom maak ek ‘n punt om nogsteeds te skilder en nogsteed in ‘n praktiese kunsvorm deel te neem omdat ek dit aan my Pa skuld.

Ek onthou  baie wonderlike dinge van my Pa. Ongelukkig het sy dood my gedagtes oorgeneem vanoggend. Ek sal weer skryf.

Na my broers die joernaal inskrywing gelees het, het hulle my ingelig dat my Pa dood is in 1990. 28 jaar gelede. En hulle het my ingelig van ‘n paar dinge soos dat my Pa se begrafnis op my oudste suster se verjaarsdag was. Wat baie sleg is. Lyk my ek het afgeskakel na ek die briefie van my broer gekry het waarin hy my laat weet my Pa is dood.

Perde

Demilander was nie ‘n perd plaas nie. Tog het perde ‘n groot rol gespeel in ons groot word. Sterk het ons gesit op die perde en die perde het ons gerespekteer en vinnig van een plaas na die ander gejaag. Demilander, Vaalbank en DePan het in ‘n driehoek langs mekaar geleef. My niggies en nefies op DePan het gesorg dat ons almal perd ry oor en weer. Hulle het van Depan af na ons toe gery of na Vaalbank toe. Nie perd ry vir pryse of kompetisie nie maar perd ry vir wild wees en klou vir jou lewe aan die perd se sweet lyf. Geen saals nie, geen fancy klere nie. Nie lang boots of ronde helmets nie, maar kaalvoet, kortbroeke en geen handskoene nie. Ons was taai ek sê jou. Regte plaasjapies. Geliefde rabbedoes.

en tog…

Jy val af, natuurlik maar om een of ander rede staan jy op sonder enige probleem, stof die grond af en klim weer op. Ry verder. As jy afval het niemand na jou gehardloop om te help nie, almal het stil gehoop jy’s OK en verlig geglimlag as jy opstaan. Die perde galop gaan voort sonder ‘n probleem. Ja soms mank loop, soms bloed tog die dokter was ver en die dominee nog verder.

My een DePan niggie het aan my en my broer perde gegee. My broer sin was wit en myne was bruin. As kind het ek baie boeke gelees en een van my boeke se titel was Espanje. So het dit gekom dat ek my perd Espanje genoem het, want die spesiale geskenk perdjie het ‘n spesiale naam nodig gehad. Die plaasjapie se eenvoudige drome van vreemde lande. Ongelukkig het my broer Universiteit toe gegaan en my niggies dorp toe getrek en ek was alleen op die plaas met die perde en die genot was weg want die moed het my begewe om op my eie die perde te vang of te ry.

Nou en dan het ek na ons twee perde toe geloop waar hulle wei en vir hulle wortels of appels gevoer en self een keer ‘n bietjie suiker. Maar hulle het nie meer daarvan gehou om gevang te word en gery te word nie. Wild met ‘n sin van onafhanklikheid.

kleintydperde
‘n Juweel van ‘n foto wat my niggie vir my gestuur het. Sy, haar sussie en ‘n vriend is op die perdjie. Dis hoe ons almal daai tyd gelyk het. Ons lyk nie taai nie maar ons was.

Spoke

My Pa het die ou tagtigs Audi in die garage parkeer en my Ma het uitgeklim met haar groot bos sleutels om die deur tussen die garage en die huis oop te sluit. ‘n Ritueel wat ons almal seker duisende kere al deurgegaan het sonder enige voorval. In daai tyd was dit so dat my Pa die enjin moes gaan aan sit vir elektrisiteit. So na ons in die huis instap was als gevou in donker. Ons was almal lus om gou gou in die bed te klim. Ons was nooit noodwendig bang om in die donker te stap nie, dit was tog ons eie vriendelike donker behalwe vir hierdie een aand toe ons instap en geraas hoor. Die rustigheid wat die plaas pad oor my gebring het was weg.

Verward het ons stil gaan staan om te luister waar presies die geraas was. Die kombuis of die sitkamer, so het dit geklink. Ewe skielik  was die afstand van die garage deur na die kombuis oneindig lank en die donker bedreigend. Met die hulp van stadig loop en voel voel met ons hande en dalk ‘n flits wat my ma  beet gekry het, het ons stadig en onseker na die kombuis se kant toe beweeg. Borde breek en ‘n onaardse gehoet-hoet het ons begroet. My ma het iets gesê van ‘n spook. Ek was so bang want natuurlik het ek nog nooit ‘n spook gesien nie. My ma moes seker gegrap het, maar vir my was niks snaaks nie. Waar is my Pa se pistool?

Uiteindelik het my Pa die enjin aangekry en ingekom om langs ons te staan. Vereers was ons gevries in ‘n poging om besluit wat nou eintlik hier aan gaan en wie of wat het by ons huis ingekom sonder toestemming. Terwyl ek en my Ma stil staan het my Pa vorentoe beweeg en agter die laaikas het hy iets gevang. ‘n Uil wat op een of ander manier in ons huis ingekom het. Verduisterd en verlig het ons na die nageslag van die Dinosourus gekyk. Nou was die spoke weg en die uil het weggevlieg na my pa hom by die deur uit gegooi het. My Pa was tog my held gewees daai aand.

Boomklim, Plaas Parkour,

Bo is fotos van die talle Wigerbome en Bloekom bome was ons as kinders gelkim het.

Boomklim, Plaas Parkour. Om as kind op ‘n plaas grrot te word het voordele en is anders as om op die naburige dorp of stad groot te word. Nie dat dit noodwendig beter is nie. Maar dinge soos boomklim was tweede natuur vir ons op Demilander.

Demilaner het twee tipe bome wat goed is vir boomklim. Wilgerbome en Bloekombome. Natuurlik as jy dit doen doen jy dit op jou eie risiko. In my opinie was die Wilgerbome beter en makliker om te klim. Die bome is ‘n paar verdiepings hoog.  As kinders het ons en ons naburige familie, vakansies en naweke afgehardloop na die wilgerbome. Ten minste 400 meter van die huis af en begin klim. Soms was dit ‘n kompetiesie om te kyk wie kon van die grond na die hoogste punt die vinnigste klim. Ander kere het ons rustig geklim en elkeen sy eie tak ge-eien. Die punt was om jou tak te beskerm. As jongste kind bevind ek myself alleen op die plaas tussen 16 en 17. Boomklim toe was meer vir dagdrome en self ondersoeking.

Dit was gevaarlik ja. Ek het nogsteed ‘n litteken op my linkerskouer van waar ek geval het in ‘n skerp tak. Snaaks genoeg is ek nie hospitaal toe gejaag nie en was dit ook nie ‘n “big deal” gewees nie.

Dit was lekker. Dit was opwindend en het altyd ‘n mate van vrees opgeroep. Boomklim is die plaasjapie se parkour. Vir die wat nie weet wat parkour is nie, parkour is om so vinnig as moontlik van punt A na punt B te beweeg deur te klim, te spring, te bommelakiesie, en te duik in n stads omgewing. Hier is n wiki inskrywing as jy meer wil weet. PARKOUR-WIKIPEDIA